Brussel

Article on other languages:

Brussel

Kaart Wapen
Vlag
 Land België
 Gewes (deelstaat) Brussel-Hoofstad
 Koördinate 50°51′N 4°21′O
 Stigting 979
 Oppervlak:  
 - Totaal 32,61 vk km
 Hoogte bo seevlak 15-100 m bo seespieël
 Bevolking:  
 - Totaal (1 Januarie 2007) 145 717
 - Bevolkingsdigtheid 4 441/vk km
 - Metropolitaanse gebied 1 031 215
 Tydsone UTC +1 (MET)
 Burgemeester Freddy Thielemans (PS)
 Amptelike Webwerf brussels.irisnet.be

Brussel (Nederlands en Afrikaans), Frans: Bruxelles, Duits: Brüssel, Engels: Brussels) is die hoofstad en politieke, ekonomiese en kulturele sentrum van België met 'n oppervlakte van 32,61 vierkante kilometer en 145 717 inwoners (1 Januarie 2007).

Saam met 18 ander stede en gemeentes vorm dit die metropolitaanse gebied (agglomération de Bruxelles) van Brussel met sowat een miljoen oorwegend Franstalige inwoners. Dit is na Montreal ook die tweede grootste Franssprekende agglomerasie buite Frankryk. Openbare instellings is nogtans twee- of drietalig.

Die stad vervul sowel nasionale funksies as administratiewe hoofstad van die Gewes Brussel-Hoofstad (Région de Bruxelles-Capitale) en die Franse en Vlaamse Gemeenskappe van België, asook internasionale funksies as die administratiewe hoofstad van die Europese Unie, as die setel van 120 internasionale organisasies en 159 ambassades met meer as 2 500 diplomate, wat van Brussel die tweede belangrikste stad vir diplomatieke betrekkinge na Washington, DC maak.

Brussel huisves ook die hoofkwartiere van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO), die Sekretariaat-Generaal van die Benelux-Unie van België, Nederland en Luxemburg, en sowat 1 400 nie-regeringsorganisasies (NROs). Die stad word deur twee moderne lughawens bedien, Brussel-Nationaal in die Vlaamse voorstad Zaventem en Bruxelles-Sud (Brussel-Suid) in Gosselies naby Charleroi.

Brussel beskik oor een van die mooiste markpleine ter wêreld (die Grand' Place of Groot Markplein), tientalle musea en voorbeelde van historiese boustyle. Terselfdertyd is dit 'n stad wat steeds vernuwing ondergaan, en daar is nou moderne stadswyke wat deur administratiewe en sakegeboue oorheers word.

Uitgestrekte parke en bosgebiede in die stad self en in die omgewing is rusplekke vir die besige Brusselaars. Besienswaardighede buitekant Brussel sluit die Zoniënwoud (Frans: Forêt de Soignes) en die Koninklike Museum vir Sentraal-Afrika in Tervuren ('n oostelike Vlaamse voorstad) en die dorpie Waterloo (in die provinsie Waals-Brabant) in, waar met die historiese slag van die jaar 1815 die tydperk van Napoléon Bonaparte tot 'n einde kom.

Inhoud

Geografie

Die stad Brussel lê in die sentrum van België in die Brusselse Bekken tussen die Vlaamse Laagvlaktes en die Plato van Brabant teen 'n hoogte van tussen 15 en 100 meter bo seevlak. Die "sewe heuwels", waarop Brussel oorspronklik gebou is, is in die huidige stadsgebied, wat eerder as 'n golwende terrein beskou kan word, nouliks herkenbaar. Die bekendste heuwels is die Berg van die Kuns, Berg van die Justisie en Berg van die Barmhartigheid - hier het argitektoniese bakens ontstaan. Die golwende landskap en strate bied soms indrukwekkende uitsigte oor die stadsgebied.

Ook die klein Zennerivier, wat die stad vanuit die suidweste in noordoostelike rigting deurvloei en vanaf die 11de eeu saam met sy takriviere en grachten as 'n belangrike waterweg gedien het, is in die 19de en 20ste eeu oorwelf en sodoende tot 'n onderaardse stroom omgeskep waarin Brussel se rou rioolwater beland het. Sommige van die kwartiere langs die Zenne het al in die 19de eeu bekend gestaan vir hul gebrek aan sanitasie en die gepaardgaande onhigiëniese toestande. 'n Doeltreffende water-rioleringstelsel en 'n nuwe watersuiweringsaanleg in Brussel-Noord, wat die Zenne se watergehalte sal verbeter, is eers teen die begin van die 21ste eeu geïnstalleer. Vanuit Anderlecht en die westelike stadsgrens met Molenbeek loop 'n seekanaal deur die stadsgebied wat Brussel met Charleroi en Antwerpen verbind.

'n Klein meer in die Ter Kamerenbos

In administratiewe opsig is Brussel eintlik net 'n stad in die Hoofstadgewes Brussel (Nederlands: Brussels Hoofdelijk Gewest, Frans: Région de Bruxelles-Capitale) met 'n oppervlakte van 32 vierkante kilometer, maar nogtans word meestal die tweetalige Hoofstadgewes met 'n oppervlakte van 161 kilometer en 'n hoë bevolkingsdigtheid bedoel wanneer 'n mens na "Brussel" verwys. Hierdie agglomerasie het 'n bevolking van meer as een miljoen mense, en sy beboude gebied het lankal na die aangrensende Nederlandssprekende "randgemeentes" van die Vlaamse Gewes uitgebrei om 'n metropolitaanse gebied met 'n oppervlakte van 520 vierkante kilometer en 1,4 miljoen inwoners te vorm. Brussel maak darnaas ook deel uit van 'n groter Belgiese metropolitaanse gebied in die driehoek tussen Brussel, Gent en Antwerpen met 'n bevolking van 4,4 miljoen mense.

Die stad Brussel behels die historiese stadsentrum met Bo- en Benedestad, die noordelike stadsgebiede Haren, Laken, Neder-Over-Heembeek en die bosgebied Ter Kamerenbos. Die Hoofstadgewes is in 19 administratiewe eenhede verdeel wat oorspronklik selfstandige munisipaliteite was en nog steeds oor hul eie stadsrade, hospitale, polisiekommissarisse en ander munisipale instellings beskik.

Die nuwe rol van Brussel as hoofstad van die Koninkryk België en die vinnige industrialisering van die land het in die 19de eeu tot 'n grootskaalse migrasie van Wale en Franse na die voormalige voorstede van Brussel gelei. Die beboude gebiede het tot by die munisipale grense uitgebrei, en uiteindelik het die nedersettings rondom die historiese Brusselse stadskern (Vijfhoek, Pentagone) tot 'n stedelike konglomeraat saamgesmelt. Behalwe vir 'n aantal dorpe en stede, wat volgens koninklike dekrete by die stad Brussel ingelyf is, het die voorstede hul selfregerende status steeds gehandhaaf.

Geskiedenis

Die naam Brussel is 'n samestelling van die Oud-Nederlandse woord bruoc ("broek" of "moeras") en sella ("kapel")

Volgens die legende word Brussel in die 7de eeu deur die heilige Gérald, biskop van Cambrai, op 'n eiland in die Sennerivier gestig.

Die stad Bruocsella word vir die eerste keer in 'n dokument uit die jaar 966 genoem. In 977 laat hertog Karel van Nederlotaringe 'n kapel en 'n burg op 'n eiland in die Zenne oprig.

Die gotiese katedraal van Brussel

Sedert die 12de eeu is Brussel die woonplek van die Brabantse hertoë en 'n sentrum van die middeleeuse lakennywerheid. Die vesting van Brussel dien as beskerming van die ou handelsroete tussen Brugge en Keulen. Die stad word in die 12de eeu aansienlik vergroot en gedurende die 14de eeu word die verskillende stadswyke deur 'n gemeenskaplike stadsmuur verenig.

Beenhouwersstraat (Rue des Bouchers)- die mekka van die fynproewers

In die jaar 1383 word die hoofstad van die Hertogdom Leuven na Brussel verskuif. Hoewel 'n groot aantal adellikes en amptenare van die hof hulle in die stad vestig, word Brussel nog steeds deur die koopmansgildes regeer. Sedert 1421 is ook ambagsmanne lede van die stadsraad. Brussel beleef die hoogtepunt van sy ontwikkeling onder die heerskappy van die Hertoë van Boergondië en word die hoofstad van die Nederlande. Die Grote Markt (Frans: Grand Place) met die statige Raadsaal en sy pragtige gildehuise word die trotse simbool van die plaaslike bestuur. Danksy die hof van die hertoë word Brussel ook 'n belangrike sentrum van die renaissance in die noordelike deel van Europa. Met sowat 45 000 inwoners teen die jaar 1455 is Brussel een van die grootste Europese stede.

Tydens die 16de eeu is Brussel die sentrum van die Nederlandse opstand teen die Spaanse heerskappy; 1585 verower Alessandro Farnese, stadhouer van die Nederlande, die stad.

Brussel word hoofstad van die Habsburgse Nederlande en vanaf 1830 die hoofstad van België met destyds meer as 100 000 inwoners. In 1835 ontstaan die eerste spoorweg op die Europese vasteland, wat Brussel met die nabye Vlaamse stad Mechelen verbind.

Danksy die nuwe rol as die hoofstad van 'n onafhanklike staat en die aansienlike groei van die Belgiese nywerhede lei tot 'n vinnige aanwas in die bevolking, onder meer deur immigrasie uit die Franstalige Wallonië en Frankryk. Die plattelandse dorpies van die omgewing smelt saam met die historiese stadskern van Brussel. In hierdie tydperk verloor die stad sy voormalige Vlaamse karakter.

Na die Tweede Wêreldoorlog kry Brussel 'n nuwe rol as 'n internasionale sentrum en hoofkwartier van belangrike Europese instellings. Die wêreldtentoonstelling van 1958 vind hier plaas. Sedert 1967 is Brussel ook die hoofkwartier van die NAVO.

Brussel het sy internasionale karakter aan vier historiese tydperke te danke. In 1550 verskuif Maria van Hongarye, 'n heerseres van die huis Habsburg, die administrasie van die Spaanse Nederlande van Mechelen na Brussel. Koning Leopold II, wat tussen 1865 en 1909 regeer het, oornem die neoklassisistiese boustyl van Parys vir sy geboue, onder meer die Triomfboog van die jare 1904-1905. Sy koloniale beleid in Afrika lei tot die stigting van die kolonie Belgies-Kongo, en vandag huisves die Belgiese hoofstad nog steeds 'n gemeenskap van Kongolese burgers. Met die heropbou en die modernisering van die ekonomie vestig 'n groot aantal gasarbeiders uit Italië en later ook Arabiese lande hulle in Brussel. Die ontwikkeling van Brussel tot een van die politieke sentrums van die Europese Unie lei tot die vestiging van duisende Europese amptenare in die stad.

Taalkundige situasie

'n Brusselse straat in die aandskemer
Die verfransing van Brussel duur steeds voort

Die oorspronklike tale van Brussel is die Brabantse dialekte van Nederlands. Eie aan Brussel was Marollien (Frans: "Die taal van die stadswyk Marollen"), 'n Brusselse dialek wat sterk deur die Waalse taal beïnvloed is. Marollien word oorspronklik in die Marollen (Frans: Marolles), 'n stadswyk in die binnestad van Brussel, gepraat. Frans en Nederlands is in die geskiedenis van die stad as amptelike tale gebruik en deur die bolaag van die bevolking gepraat.

Met die vestiging van geletterdheid onder die bevolking word die dialekte geleidelik deur die standaardtale teruggedring. In Brussel neem die grootste deel van die bevolking eerder die meer prestigieuse Franse taal, wat hulle ook as nuttiger ag, as Nederlands as hulle kulturele taal aan. Vandag word die Brusselse dialekte deur uitwissing bedreig, alhoewel daar pogings onderneem word om hulle te bewaar.

Tans is Brussel as die nasionale hoofstad van België amptelik tweetalig. Daar is geen amptelike statistieke aangaande die huistaal van die bevolking nie. Volgens 'n studie van Rudi Janssens, 'n sosiolinguïs by die Nederlandstalige Vrije Universiteit van Brussel (VUB), is sowat 8,5 persent van die Brusselse bevolking Nederlandse moedertaalsprekers, terwyl 10,2 persent Nederlands en Frans as huistale praat. Die res van die bevolking is óf Franse moedertalsprekers óf anderstaliges wat oorwegend Frans gebruik wanneer hulle met mense van 'n ander taalgroep praat.

Die Berlaymont-gebou, setel van die Europese Kommissie

Die groei van Brussel lei tot die vestiging van groot getalle Franstaliges in die Vlaamse voorstede van Brussel, waar hulle dikwels al die meerderheid (soms sewentig persent van die bevolking) vorm.

Die feit dat Brussel 'n hoofsaaklik Frankofone metropool geword het en deur middel van die verfranste voorstede nou 'n veral Franse taalgebied in voormalige Vlaamse dorpe begin ontwikkel, wat administratief en territoriaal direk verbind (corridor) sou kon word met Wallonië, skep 'n probleem vir die twee groot taalgemeenskappe van België.

Na die Tweede Wêreldoorlog is die status van die stad 'n twispunt van die Belgiese politiek. Brussel is sedert die jare 1932 tot 1938 offisiëel tweetalig, terwyl die ses Vlaamse randgemeentes (voorstede net buite die Brusselse Hoofstadgewes) Drogenbos, Kraainem, Linkebeek, Sint-Genesius-Rode, Wemmel en Wezembeek-Oppem fasiliteite moet aanbied vir frankofone Brusselaars wat na hierdie voorstede verhuis het. Daar is nog steeds 'n geskil of hierdie instellings soos skole en biblioteke slegs 'n tydelike oplossing gaan wees of permanente status moet kry. Pogings van Franstaliges om hierdie randgemeentes by die agglomerasie van Brussel in te lyf en sodanig die taalgrens deur die geografiese verbinding met Wallonië vir goed af te baken, is deur die Vlaamse bevolking (60 persent van die Belgiese bevolking) gekeer.

Die aantreklikheid van die Franse taal en leefwyse, alhoewel gepaard met maatskaplike druk, het sedert die 19de eeu steeds verseker dat baie Vlaminge Nederlands as omgangstaal laat vaar het (maar hierdie proses is seker die laatste 40 jaar nie meer die geval nie).

Ekonomiese basis

Die Brusselse Effektebeurs

In die Middeleeue is Brussel se ekonomie deur die gildes van die verskillende ambagte oorheers, en naas die meer as veertig lewensgrote bronsstandbeelde op die Kleine Zavel (Place du Petit Sablon), wat hierdie gildes versinnebeeld, is daar nog 'n aantal straatname soos Beenhouwersstraat, wat aan die ambagsmanne se oorspronklike kwartiere herinner. Net soos Gent en Brugge het Brussel destyds as 'n sentrum van die lakenbedryf, die gobelinfabrieke, die timmermans, silwersmede en meubelmakers bekend gestaan.

'n Klein winkel in die Boterstraat (Rue au Beurre)

Ná die onafhanklikheidsverklaring van België in 1830 het 'n aantal banke en nywerhede hulle hoofkwartiere in die stad gevestig, en Brussel speel 'n belangrike rol by die industrialisering van die land. Die grootste ondernemings, wat hier gestig is, is Solvay, 'n chemiese onderneming, en die Generale Maatschappij van België, 'n bank en eiendomsmaatskappy, wat sowat 'n derde van die Belgiese ekonomie oorheers het en in 1989 deur die Franse maatskappy Suez oorgeneem is. Sy hoofkwartier lê in die Koningsstraat (rue Royale).

Intussen is die dienstesektor die belangrikste bedryf in Brussel, naas die nasionale en internasionale administrasies en organisasies. Die dienstesektor en die internasionale organisasies gee op hulle beurt die aanleiding tot die vestiging van besighede, wat aanvullende dienste lewer, soos onder meer hotelle en restourante.

Ten opsigte van die nywerheidsbedryf is die farmaseutiese en elektroniese nywerhede die belangrikste werkgewers, en Brussel is nog steeds die tweede belangrikste nywerheidstad in België na die hawestad Antwerpen. Die Duitse motorvervaardiger Volkswagen het 'n aanleg in die voorstad Vorst (Forest) opgerig, wat tans die grootste fabriek in Brussel is, alhoewel die Volkswagen Groep die plaaslike produksie as gevolg van hoë arbeidskoste sedert 2006 afgeskaal het. Brusselse kant en tapyte is gewilde tradisionele kunshandwerk.

Meer as 2 000 buitelandse ondernemings het hulle hoofkwartiere in Brussel, waarvan 1 400 maatskappye uit Noord-Amerika, wat van hier die Europese mark bedien, en sestig buitelandse banke. Brussel is tans die sewende grootste finansiële sentrum ter wêreld. Daar is ook meer as 1 000 internasionale organisasies en verenigings, wat hulle hoofkwartiere in Brussel het. Brussel tree as gasheerstad vir jaarliks meer as 1 000 sakekonferensies op.

Kuns en kultuur

Die Belgiese Strokiesverhaal-museum in Brussel

Brussel se ryk verskeidenheid van kulturele instellings sluit talle Frans- en Nederlandstalige teaters, waaronder die eersterangse operateater Muntschouwburg (Frans: Théatre de la Monnaie), en musea in.

Net soos Parys staan Brussel as een van die Europese hoofstede van die strokiesverhaal bekend. België is die tuisland van wêreldbekende tekenaars soos Hergé (eintlik Georges Remi, "Die avonture van Kuifie"), Morris (eintlik Maurice de Bevère, "Lucky Luke") en Peyo (eintlik Pierre Culliford, "Les Schtroumpfs", Afrikaans: Die "Smurfe"). Daar is meer as 650 aktiewe tekenaars, en Belgiese strokiesverhale het 'n wêreldwye oplaag van jaarliks 40 miljoen. Reusagtige beelde van gewilde strokiesverhaal-figure word dikwels gebruik om huismure te versier (tans is 32 huisfasades op hierdie manier verfraai), en kunstenaars word ook uitgenooi om kunswerke vir die Brusselse metrostasies te ontwerp.

Die Belgiese Strokiesverhaal-museum (Belgisch Centrum voor het Beeldverhaal, Centre Belge de la Bande Dessinée) verbind twee leidmotiewe van die stad se kunslewe: Sy gebou is die voormalige afdelingswinkel Waucquez, wat deur Victor Horta in die Art nouveau-styl ontwerp en in 1906 opgerig is. Die museum beskik oor 'n vloerspasie van meer as 4 000 vierkante meter. Die permanente tentoonstelling Espace Victor Horta op die grondverdieping gee veral met sy fotografieë 'n oorsig oor Horta se werk.

Argitektuur

Raadsaal

Die Raadsaal van Brussel

Die Stadhuis of Hôtel de Ville (Raadsaal) van Brussel, wat tussen 1402 en 1455 as 'n simbool vir die rykdom van die stad in die Brabants-Gotiese styl opgerig en deur die UNESCO in 1998 saam met die Grote Markt as 'n wêrelderfenisgebied gelys is, is een van die argitektoniese pronkstukke op Brussel se sentrale plein, die Groot Markplein (Grand Place). Sy toring met 'n hoogte van 96 meter, wat deur Jan van Ruusbroec ontwerp is, is met standbeelde van die aartsengel Michael, die beskermheilige van Brussel, en die duiwel bekroon. Die toring word as een van die mooiste voorbeelde van die wêreldlike Gotiese boukuns beskou.

Die oosvleuel met die Leeuetrap dateer uit die vroeë 15de eeu en is sodoende die oudste deel van die huidige raadsaal. Die wesvleuel is tussen 1445 en 1450 bygevoeg, maar die destydse boumeesters het min aandag aan die skepping van 'n harmoniese en simmetriese struktuur geskenk. Die gebou is tydens die Franse bombardering van 1695 ernstig beskadig en vervolgens heropgebou. Die State van Brabant het die ou lakenhal aan die agterkant van die raadsaal tussen 1706 en 1711 deur 'n nuwe gebou laat vervang, en die hof, wat hier ontstaan het, is met 'n allegoriese fontein versier wat die Maasrivier as bronfiguur uitgebeeld het.

Die kraagstene en kapitele van die wesvleuel is met beeldhouwerk versier wat 'n slapende Moor in sy harem en monnike tydens 'n drinkparty uitbeeld - 'n verwysing na twee historiese huise, De Moor en Papenkeldere, wat afgebreek is om plek te maak vir die nuwe vleuel. Ook die fasade pronk met beeldhouwerke en allegoriese figure van onder meer die beeldhouer Charles-August Fraikin (1817-1839), wat ook die monument ter ere van die grawe Egmont en Hoorn op die Petit Sablon geskep het. Ander figure sluit Sint-Michael, Sint-Joris, Sint-Sebastiaan en Sint-Christopherus in die boogveld van die portaal in.

Ander bekende Belgiese beeldhouers verwys met die kunswerke, wat hulle vir die raadsaal geskep het, na bekende persoonlikhede uit die Brusselse kunslewe en geskiedenis. Georges Minne het byvoorbeeld 'n steenmonument ter ere van die argitek Jacques Francquart (1582-1651) geskep. Altesaam 137 portieke is met beeldhouwerke versier wat onder meer die skilder Bernard van Orley (1488-1542), die Busselse stadskilder Rogier van der Weyden ('n boorling van Doornik, omstreeks 1400-1464) en Maria van Hongarye uitbeeld.

Die room van die raadsaal se kosbare kunsskatte sluit wandtapyte in wat tussen die 16de en 19de eeu ontstaan het en tonele uit die lewe van Clovis I en die Brusselse gildes uitbeeld.

Justisiepaleis

Die reusagtige Justitiepaleis (Palais de Justice) toring met sy goudversierde koepel met 'n hoogte van 142 meter oor die Bostad van Brussel. Die heuwel, waarop die paleis tussen 1866 en 1883 in die eklektisistiese boustyl opgerig is, het tot by die 16de eeu as galgberg gedien.

Die Justisiepaleis is met 'n lengte van 160 meter en 'n wydte van 150 meter een van die grootste geboue wat gedurende die 19de eeu opgerig en by sy voltooing selfs die grootste ter wêreld - sy grondvloer oortref met 'n oppervlakte van 26 000 vierkante meter nog die Sint-Pieterskatedraal in Rome (22 000 vierkante meter).

Die monumentale paleis weerspieël in baie opsigte die politieke en maatskaplike klimaat van die destydse België. Danksy die Kongo, 'n kolonie in privaatbesit van die Belgiese koning Leopold II, het die staat oor aansienlike geldmiddele beskik - die boukoste het uiteindelik 45 miljoen Belgiese frank beloop. Die ontwerp van die argitek Joseph Poelaert (wat nog voor die voltooiing van sy meesterwerk in 1879 oorlede is) berus oorwegend op antieke Grieks-Romeinse stylelemente. Die Justisiepaleis behels agt howe, 27 geregsale en 245 kleiner kamers. Die gebou huisves tans die Hof van Cassatie.

Art nouveau-boukuns

Victor Horta: Hôtel Tassel

Die afdelingswinkel Waucquez is een van talle geboue uit die bloeitydperk van die Brusselse Art nouveau-styl tussen 1893 en 1905. Die historiese stadskern bied pragtige voorbeelde van Vlaamse burgerhuise, wat met 'n aantal Art nouveau-geboue verryk is. Victor Horta, die pionier van die Art nouveau-boustyl in Brussel, speel net soos sy kollega Paul Hankar 'n leidende rol in die argitektoniese geskiedenis van die stad.

Die plaaslike Art nouveau-styl was aanvanklik veral deur arabeske gekenmerk, maar het omtrent 1900 toenemend onder die invloed van die Weense Secession-styl gekom en hom meer op geometriese vorms toegespits.

Die Palais Stoclet in die Tervurenlaan, wat deur die Weense argitek Josef Hoffmann ontwerp is, word as een van die pragtigste voorbeelde van die Art nouveau-styl beskou. Voorstede soos Schaarbeek, Sint-Gillis (Frans: Saint-Gilles), Elsene (Frans: Ixelles) en Etterbeek, wat in die bloeitydperk van die Art nouveau-styl ontstaan het, vorm 'n interessante kontras teen die moderne stadswyke van Leopoldwijk (Frans: Quartier Léopold) en Noordwijk (Espace Nord).

Die Maison Cauchie, wat in 1905 deur Paul Cauchie opgerig is, word by die mees invloedryke voorbeelde van die Brusselse Art nouveau-boustyl gereken en gee 'n goeie indruk van die destydse versmelting van argitektuur en muurskildery. Die huis se fasade is met sgraffiti versier.

Honderde huise pronk daarnaas met fasades waarin Art nouveau-stylelemente ingewerk is.

Besienswaardighede

Manneken Pis
  • Die Zoniënwoud (Frans: Forêt de Soignes) is 'n beukeboomwoud wat sowat 4 300 hektaar grond dek. Die woud, wat nou nog 'n derde van sy oorspronklike oppervlakte van die jaar 1830 beslaan, behoort tot die mooiste bosgebiede van die land. Die reusagtige bome word soms met die pilare van 'n katedraal vergelyk.
  • Die Grote Markt (Frans: Grand Place) behoort tot die mooiste markpleine ter wêreld. Dit is reeds in die 13de eeu die middelpunt van die Brusselse handel, en 48 gildes het destyds hulle hoofkwartier in die stad. Die oorspronklike plein is in 1695 onder Franse geskut verniel, net die raadsaal is gespaar. Met die heropbou ontstaan 'n harmoniese groep van geboue in die Vlaamse barok-styl met sy kenmerkende goue en ryk versierde voorgewels.
  • Die Broodhuis (Frans: Maison du Roi) dateer uit die jare 1515 tot 1525 (heropgerig in die tydperk tussen 1860 en 1885) en dien vandag as 'n stedelike museum. Historiese dokumente oor die geskiedenis van die stad Brussel, kantwerk, tapyte, porselein en 'n groot versameling kostuums en uniforms van Manneken Pis kan hier bewonder word.
  • Die gotiese katedraal St-Michel (vroeër Ste-Gudule) is tussen die 13de en 15de eeu opgerig en aan die aartsengel Michiel, die beskermheer van Brussel, en aan die heilige Gudula gewy. Sy pragtige glasvensters dateer uit die 16de eeu. Sedert die jaar 1962 is dit die setel van die aartsbiskop van Mechelen-Brussel.
  • Die bron met die bekende Manneken Pis staan sowat honderd meter agter die raadsaal in die Stoofstraat (Frans: Rue de l'Étuve) en simboliseer die eiesinnige karakter van die Brusselaars. Die bronsfiguur is in 1619 deur Jérôme Duquesnoy gegiet.
  • Die elegante Koningsplein (Place Royale) is tussen 1774 en 1780 in die styl van Louis XVI (Lodewyk XVI) opgerig.
  • Die Museum voor Oude Kunst (Musée d'Art ancien) toon skilderye van onder meer Brueghel en Rubens.
  • Die Jubelpark (Parc du Cinquantenaire) lê sowat 2 500 meter oos van die stadsentrum en beslaan 'n oppervlak van 38 hektaar. Die park word in 1880 ter viering van België se vyftigste verjaardag opgerig en huisves onder meer een van die grootste Europese museumkomplekse. Die Koninklike Museum vir Kuns en Geskiedenis in die Palais du Cinquantenaire (Vijftigjarige Jubileumspaleis) toon kunswerke en antikwiteite; hier in die oostelike deel van Brussel is ook die meeste administratiewe geboue van die Europese Unie te vinde.
  • Die Brusselse Atomium in die voorstad Laken (Laeken), simbool van die wêreldtentoonstelling van 1958, vorm met sy nege bolle 'n 165-biljoen-keer vergroting van 'n ystermolekuul. Die gebou van 102 meter hoogte met 'n gewig van 2 400 ton is deur die argitek André Waterkeyn aan die wetenskaplike vooruitgang gewy. Die Atomium ondergaan naastenby vyftig jaar na sy opening uitgebreide herstelwerk en opknapping. Die aluminium van die ystermolekuul en die struktuur is deur vlekvrye staal vervang. Teen die einde van die jaar 2005 is die Atomium heropen.
  • Die Sint-Hubertusgalerijen (Galeries Saint-Hubert) is die eerste oordakte winkellaan in Europa en word in die jare 1846 tot 1847 opgerig.

Vervoer

Brussel beskik oor 'n aantal groot spoorwegstasies (Brussel-Noord, Brussel-Sentraal en Brussel-Suid), wat deur 'n tonnellyn met mekaar verbind word. Die belangrikste stasie vir treine uit die buiteland is Brussel-Zuid (Bruxelles Midi), wat verbindings na Parys, Amsterdam, Keulen en Londen bied. Die sneltrein Thalys verbind die Brusselse hoofstad met Parys en Keulen, terwyl die Eurostar Londen as bestemming het.

Feeste

Die skilderagtige historiese skouspel Ommegang vind op die eerste Donderdag van Julie op die Grote Markt plaas. Die tradisionele Meyboom word jaarliks op 9 Augustus geplant.

Kookkuns

Belgiese sjokolade
Brusselse wafel

Brussel word as een van die gastronomiese hoofstede van die wêreld beskou. Die Grote Markt is die tuiste van die chocolatiers en ander winkels wat die gesogte soet kosse verkoop. Die Îlot sacré noordoos van die Grote Markt is 'n ou buurt met talle restourante. Tipiese spesialiteite is moules-frites (mosselen en frieten), Brusselse sigorei (witloof of chicorée) en spruitkool (spruitjes of chou de Bruxelles).

België ken honderde soorte biere; Kriek-Lambic en Gueuze is tipies Brussels. As basis vir die suur Gueuze-bier dien Lambic, wat van koring, gemoute gars, hop en water gebrou word en in ou houtvate sonder gis fermenteer. Dikwels word verskillende soorte Lambic gemeng, om die skuimende Gueuze te verkry - 'n bier met 'n sterk geur van appelwyn. Die Belgiërs geniet hulle lambic ook met kerssap ("kriek") en ander vrugtesappe.

Gewilde Brusselse lekkernye is die bekende gaufres (wafels), wat ook as 'n warm nagereg met of sonder stroop geniet word, en sjokolade. Die apteker Jean Neuhaus, 'n immigrant uit die Switserse stad Neuchâtel, het in 1857 in die Galerie de la Reine 'n winkel geopen waar hy bitter pille met 'n oortreksel van suiker verkoop het. Sy seun Frédéric het begin om ingevoerde kakaobone uit Afrika te gebruik en omtrent 1900 die eerste pralinees aangebied wat van sjokolade gemaak is.

Alhoewel die Amerikaners hulle French fries noem, is die bekende frietes (Frans: frites, Nederlands: frieten) 'n egte Belgiese uitvinding. Sover bekend, is frietes reeds in die jaar 1781 in die stad Luik (Liège) as 'n tipiese wintermaaltyd geniet - die klein stafies het toe die visse vervang wat weens die dik yslae op die mere en riviere nie meer gehengel kon word nie. In 'n tyd, wanneer aartappels in Frankryk nog feitlik onbekend was, is hulle in die noordelike buurland danksy die Belgiese vernuf ook buite die kulinêre sfeer gebruik: Tydens die Brabantse Rewolusie van 1789 is die Oostenrykse troepe met aartappels bestook.

Die huidige vreedsame gebruik van hierdie Belgiese stapelvoedsel vereis dat hulle eers tien minute lank teen 120°C in diepolie geblansjeer word, 'n tyd lank mag afkoel en daarna nog eens 'n kort rukkie teen 180°C gebak word, wat hulle besonder bros maak en aan hulle die tipiese goue kleur verleen.

Eksterne skakels

This article is from Wikipedia. All text is available under the terms of the GNU Free Documentation License.