|
Article on other languages:
|
Berlyn (Duits en Engels: Berlin) is die hoofstad en grootste stad van Duitsland met 3 422 973 inwoners in die stad self en sowat 4,3 miljoen in die metropolitaanse gebied, wat onder meer Potsdam insluit (30 April 2008). 460 555 buitelanders (31 Desember 2005) leef in Berlyn, wat ook een van die grootste Turkse gemeenskappe in Europa het. Na Londen is Berlyn die tweede grootste stad in die Europese Unie en een van die grootste metropolitaanse gebiede. Berlyn lê in die noord-ooste van die huidige Duitsland en word omring deur die deelstaat Brandenburg. Die stad het in die verloop van sy geskiedenis meermale as die hoofstad van Duitse state soos die Keurvorstedom Brandenburg, die Koninkryk Pruise, die Duitse Ryk (1871 tot 1945) en die Duitse Demokratiese Republiek (DDR, 1949 tot 1990) gedien. Met die ontbinding van die ou provinsie Pruise deur die geallieerde magte in die jaar 1947 het Berlyn 'n afsonderlike deelstaat geword. Na die hereniging van die twee Duitse state op 3 Oktober 1990 het Berlyn sy ou funksie as hoofstad van die hele Duitsland herwin en is sedert die jaar 1999 ook weer die setel van die Duitse regering en parlement. Die stad vorm tans nie meer die ekonomiese sentrum van Duitsland nie, maar dit bly een van die invloedrykste hoofstede van die Europese Unie en ontwikkel veral danksy sy ryk kulturele erfenis tot een van die gewildste toeristebestemmings in Europa. Berlyn beskik oor eersterangse tersiêre onderwysinstellings, wetenskaplike institute, teaters, museums, argitektoniese besienswaardighede en 'n polsende naglewe, wat almal wêreldfaam het. Dit is lankal nie meer die rykste stad van Duitsland nie, maar nog steeds sy opwindendste. Berlyn was en is veral 'n smeltkroes van kulture en leefstyle. Geografie en klimaatAs 'n deelstaat van die Bondsrepubliek Duitsland vorm Berlyn 'n enklawe in die deelstaat Brandenburg. Die Duitse hoofstad beslaan 'n totale oppervlakte van sowat 892 vierkante kilometer (waarvan 19 persent bosgebiede en 6,7 persent water) en is sodoende een van die beduidendste metropolitaanse gebiede van Duitsland asook een van die grootste stede ter wêreld. Die digbevolkte stadskern word omring deur 'n voorstadgordel met 'n landelike karakter. Groot mere soos die Havel, Wannsee en Müggelsee maak deel uit van die stadsgebied.Die grootste wydte van die stadsgebied beloop 45, die grootste lengte 38 kilometer. Berlyn is een van die grootste metropolitaanse gebiede van Duitsland. Die stadsentrum is tussen die platos van Barnim en Teltow in 'n landskap geleë wat gedurende die laaste koueperiode van die Ystydperk, die sogenaamde Weichsel-ystydperk, deur 'n gletserrivier gevorm is. Sowat 20 000 jaar gelede was die stadsgebied nog deur ysmassas bedek wat vanuit die Skandinawiese skiereiland tot by Sentraal-Europa gestrek en 'n dikte van enkele honderd meter bereik het. Saam met die afsmelting van die gletser sowat 18 000 jaar gelede het die sogenaamde Berlynse Urstromtal ontstaan, 'n magtige glasiale riviervallei. Die historiese stadsentrum is by die nouste punt van hierdie riviervallei geleë. Die Spreerivier vloei in oos-westelike rigting deur die vallei. In die mees westelike stadsdistrik Spandau mond die Spreerivier in die Havel uit, 'n rivier wat in die weste van Berlyn in noord-suidelike rigting vloei. Die Havel se rivierloop was oorspronklik 'n glasiale rivierbed en lyk op sommige plekke soos 'n meerlandskap met die Tegelse Meer (Duits: Tegeler See) en die Große Wannsee as sy grootste mere. Groot dele van Berlyn is buite die glasiale riviervallei op die Barnim- en Teltowplato geleë wat in die noorde en suide aan die vallei grens en hoofsaaklik uit grondmorenes bestaan. Die administratiewe distrik Spandau strek sowel oor 'n gedeelte van die riviervallei asook oor die sogenaamde Nauense Plaat wes van Berlyn. Die hoogste heuwels in Berlyn is die Groot Müggelberg (115,4 meter bo seevlak) in die distrik Treptow-Köpenick, die Teufelsberg ('n rommelhoop wat uit die bouvalle van die Tweede Wêreldoorlog ontstaan het, 114,7 meter) in die distrik Charlottenburg-Wilmersdorf en die Ahrensfelder Berge (112,1 meter) in die landskapspark Wuhletal in die distrik Marzahn-Hellersdorf. Die Havelmere is die laagste punte van die stadsgebied (32 meter bo seevlak). Berlyn lê in 'n gebied waar die klimaat geleidelik kontinentale trekke begin aanneem; in die laaste dekade is daar gereëld droë, warm somers en winters met gematigde temperature. Die gemiddelde jaarlikse temperatuur is 9,1°C, en daar word 2 135 sonskynure gemeet (2003).
GeskiedenisBerlyn lê aan die Spree- en Havelriviere. Die naam is van Wendiese oorsprong (die Wende is vandag 'n klein Slawiese minderheid in die deelstaat Brandenburg). Teen ongeveer 1200 was daar twee visserdorpies aan die Spreerivier, Cölln en Berlyn. In 1237 het albei dorpies stadstatus gekry, en in 1307 het die twee gemeenskappe besluit om saam te smelt. In 1400 was die inwonertal ongeveer 8 000. Die stad was in die 15de eeu lid van die Hanse-gemeenskap van stede en sedert 1486 die woonplek van Brandenburg se keurvorste. Die reformasie is in 1539 ingevoer.
Die Berlynse Domkerk (Berliner Dom)
Die Dertigjarige Oorlog, wat in die tydperk tussen 1618 en 1648 groot dele van Duitsland verwoes het, het ook vir Berlyn rampspoedige gevolge gehad. Die stad het sowat die helfte van sy inwoners verloor. Frederik Willem, wat as die Groot Keurvors bekend staan, het vanaf die jaar 1640 geregeer. Berlyn het destyds 6 000 inwoners gehad, en die vors het besluit om hierdie getal deur middel van 'n beleid van verdraagsaamheid en immigrasie te verhoog. In 1641 is Berlyn met nuwe voorstede soos Friedrichswerder, Dorotheenstadt en Friedrichstadt vergroot. Barokgeboue soos die Berlynse Slot en die Zeughaus dateer uit hierdie tydperk. Vyftig Joodse gesinne uit Oostenryk het in 1671 'n nuwe tuiste in die stad gevind. Met die Edik van Potsdam het Friedrich Wilhelm in 1685 Franse Hugenote uitgenooi om hulle in Berlyn en Brandenburg te vestig. Meer as 15 000 Franse immigrante het na die gebied gestroom, waarvan 6 000 na Berlyn. Teen die jaar 1700 het die Franse inwoners 'n vyfde van die Berlynse bevolking verteenwoordig en 'n groot invloed op die kulturele lewe van die stad uitgeoefen. Groot groepe immigrante het daarnaas uit gebiede soos Boheme, Pole en Salzburg gekom. In 1709 was daar reeds 57 000 inwoners. Die stad het tot die belangrikste ekonomiese en kulturele sentrum van Pruise ontwikkel. Tydens Koning Frederik die Grote se heerskappy het die inwonertal 100 000 oorskry. Berlyn is in 1760 tydelik deur die Russiese leër beset, en in 1806 tot 1808 deur die Franse. In 1810 is die universiteit gestig wat vervolgens die geestelike en sedelike vernuwing van Pruise sou bevorder. Die beroemde argitek Schinkel het 'n aantal geboue in die styl van die klassisisme geskep. Berlyn was die middelpunt van die Pruisiese Revolusie van 1848 wat met die neerlaag van die demokrate geëindig het. Die stad het vinnig gegroei gedurende die 19de eeu en het in 1871 die hoofstad van die Duitse Ryk geword. 'n Tyd van groeiende welvaart het begin: Berlyn was nou een van die belangrikste stede van die wêreld en die grootste nywerheidsentrum van Europa. Talle kulturele geboue soos die Pergamon-museum, die Pruisiese Staatsbiblioteek, die Kaiser-Friedrich-museum, Schiller-teater en Staatsopera is in hierdie periode opgerig. Honderdduisende arbeiders en hulle gesinne is egter nouliks deur die ekonomiese opswaai geraak en het in groot armoede geleef. As gevolg van die verlore Eerste Wêreldoorlog het Keiser Wilhelm II in 1918 afstand van die troon geneem, en in Berlyn is die Duitse Republiek uitgeroep. Die jare 1918 en 1919 was gekenmerk deur rewolusionêre onluste, die opkoms van ekstremistiese politieke bewegings soos die kommunistiese spartakiste en ander groepe, wat gereeld in straatgevegte met die polisie en politieke opponente verwikkel was. Regse soldate het die arbeiderleiers Rosa Luxemburg en Karl Liebknecht vermoor.
Die Berlynse Reichstag, setel van die Duitse parlement (Bundestag)
Die huidige Berlyn is in 1920 geskep toe verskillende stede, dorpe en plase by die stad Berlyn ingelyf is. Berlyn het sommer oornag die tweede grootste stad van Europa geword. Dit was ook die begin van die dekade, wat as die "Goue Twintigerjare" bekend staan. Na die ontberings van die oorlogsjare het die mense oorgeborrel van lewenslus. Digters, joernaliste, kunstenaars en wetenskaplikes uit die binne- en buiteland het na Berlyn gestroom. Dit was die hoofstad van die natuurwetenskappe, tegniek en kultuur, nie net vir die Duitstalige lande nie, maar ook vir groot dele van Europa. In die jare tussen 1924 en 1929 was Berlyn daarnaas ook die Europese hoofstad van die naglewe en vermaak. Teen die einde van die twintigerjare was daar 49 teaters, drie operateaters, drie variëté-teaters en drie revueteaters. Sowat 1 000 uitgewers het 2 000 tydskrifte en 40 koerante gepubliseer. Danksy Max Reinhardt en Bertolt Brecht het die toneelkuns sy bloeitydperk beleef. Tegelykertyd het die publiek ontslae geraak van die ou morele beperkings. Daar was ook geen taboe meer nie. Ontblote danseresse, lasterlike vermaak, dobbelry, pornografiese kabaretskoue het die naglewe van die stad oorheers. Die tyd was ook ryp vir nuwe kunsvorms soos dadaisme, surrealisme en jazz. Dansverslaafdes was mal oor die nuwe tango, charleston en rumba-danse. In die dertigerjare het Berlyn die rekord van 4,3 miljoen inwoners bereik. Met die magsoorname deur die Nasionaal-Sosialistiese Duitse Werkersparty onder Adolf Hitler in 1933 het Berlyn die hoofstad van die "Derde Ryk" geword, en later is planne gesmee waarvolgens Berlyn as die nuwe "Wêreldhoofstad Germania" met reusagtige nuwe gebouekomplekse in die klassieke Romeinse boustyl herbou sou word. Die Nasionaal-Sosialiste het die Olimpiese Somerspele van die jaar 1936 in Berlyn doelbewus vir hulle propaganda misbruik, maar anti-Joodse geweldpleging ná die moord op 'n Duitse diplomaat in Parys het reeds twee jaar later menselewens geëis en baie Joodse winkels en ander eiendomme verniel. Die Joodse Gemeente van Berlyn met oorspronklik 160 000 lede voor 1933 is stelselmatig vernietig, en duisende Berlynse Jode is ná die pogrome van 1938 in hegtenis geneem en na die konsentrasiekamp Sachsenhausen gedeporteer. Die laaste lede van die gemeente is in Februarie 1943 na verdelgingskampe soos Auschwitz gedeporteer. Tydens die Tweede Wêreldoorlog is 'n groot deel van die stadsentrum in 363 lugaanvalle deur geallieerde bomwerpers vernietig, waarin 50 000 mense hulle lewens verloor het. Meer as een miljoen mense het tydens die oorlog uit die stad gevlug. Russiese troepe het die stad verower en van 25 April tot 2 Mei 1945 beset.
Rotes Rathaus, tans die raadsaal van Berlyn
Ná die oorlog is Berlyn in vier sektore opgedeel; die Amerikaanse, Franse en Britse sektore (Wes-Berlyn) was van 1949 tot 1989 'n bundesland (deelstaat) van die Bondsrepubliek Duitsland met 'n besondere statuut, terwyl die Russiese sektor (Oos-Berlyn) die hoofstad van die Duitse Demokratiese Republiek geword het. Die Russe het geprobeer om die ekonomie van Wes-Berlyn in 1948 deur 'n blokkade lam te slaan, maar geallieerde magte – waaronder ook Suid-Afrikaners – het met die "Lugbrug"-operasie gereageer waarin kos, steenkool en ander goedere vanuit Wes-Duitsland ingevlieg is. In 1961 is die twee helftes deur 'n betonmuur – die Berlynse Muur – geskei om 'n einde te maak aan die reuse stroom Oos-Duitse vlugtelinge wat beter lewensomstandighede in die Weste gesoek het. 'n Wêreldkrisis was die gevolg, en die Russiese regering het geëis dat Wes-Berlyn tot 'n "vrye stad" verklaar moet word, 'n voorstel wat deur die westelike geallieerdes summier verwerp is. Ná die bou van die muur het die politieke en ekonomiese situasie in Oos-Berlyn gestabiliseer: Die historiese oostelike stadsentrum met die Alexanderplatz is teen die einde van die sestigerjare vergroot en van 'n reeks moderne geboue voorsien, wat Oos-Berlyn se rol as "sosialistiese" hoofstad van die Duitse Demokratiese Republiek sou bevestig. Duisende nuwe woonstelle is aan die oostelike stadgrens opgerig. In 1971 is 'n ooreenkoms gesluit wat Wes-Duitse toegang tot Wes-Berlyn verseker het. Berlyn het in die middelpunt van die studentebeweging van die sestigerjare gestaan. Die regse pers, wat veral deur die uitgewer Axel Springer verteenwoordig is, het geprobeer om die bevolking deur haatspraak teen die studente op te stook. Tydens 'n betoging teen die besoek van die Sjah van Iran is die student Benno Ohnesorg, 'n verklaarde pasifis, op 2 Junie 1967 sonder enige rede deur 'n polisieman in die kop geskiet en gedood. Die voorval het tot die radikalisering van 'n deel van die studentebeweging gelei, wat onder meer as Rote Armee Fraktion (RAF, gestig deur Ulrike Meinhof en Andreas Baader) 'n gewapende stryd teen die staat en sy verteenwoordigers begin voer het. Ná die hereniging van Wes- en Oos-Berlyn in 1990 het die Duitse parlement besluit om van Berlyn weer die regeringsetel van Duitsland te maak. Nuwe regeringsgeboue het in die stadsentrum ontstaan, ministeries en ambassades het van die ou hoofstad Bonn na die nuwe begin verhuis. Berlyn is vandag 'n aparte deelstaat van die Bondsrepubliek Duitsland. Een van die erfenisse van meer as veertig jaar se politieke skeiding is die dubbele infrastruktuur wat in Oos- en Wes-Berlyn geskep is - die stad beskik nou byvoorbeeld oor twee sentrale besigheidsdistrikte (Kurfürstendamm en Mitte/Friedrichstraße), drie operateaters, twee planetariums (Insulaner-Sternwarte en Zeiss-Großplanetarium) en twee dieretuine (Zoologischer Garten en Tierpark Friedrichsfelde). DemografieVan die 3,4 miljoen inwoners is 52,9 persent vroue en 48,8 persent mans. 5 persent van die inwoners is jonger as 6 jaar; 10,4 persent is tussen 6 en 18 jaar oud; 41,4 persent is in die ouderdomsgroep tussen 18 en 45 jaar; 26,6 persent is in die ouderdomsgroep 45-65; en 16,6 persent is ouer as 65 jaar. In 2006 was daar 29 627 lewende geboortes en 31 500 sterfgevalle. 118 893 mense het hulle in Berlyn gevestig, terwyl 108 214 inwoners na ander stede en lande verhuis het. Die grootste geloofsgroepe volgens amptelike gegewens was in (2004): 756 800 (22 persent) Lutherane[1], 307 000 (9 persent) Rooms-Katolieke, 210 000 (6 persent) Moslems, 90 000 ander Christelike kerke, 12 000 Jode, 6 500 Boeddhiste; 60 persent ongebonde. In 2005 was daar meer as 460 000 buitelanders (2006: 472 650) uit 185 lande, onder meer sowat 117 700 Turke, 40 800 Pole, 24 800 Serwiërs, 14 000 Russe, 13 800 Italianers, 12 600 Amerikaners, 11 500 Franse, 11 500 Kroate, 11 300 Viëtnamese, 10 400 Bosniërs, 10 100 Grieke, 9 200 Britte, 8 400 Oostenrykers, 7 900 Libanese, 5 900 Thais, 5 800 Spanjaarde en 5 600 Sjinese. Daar is vermoedelik sowat 200 000 onwettige immigrante. 41,5 persent van die buitelanders in Berlyn is werkloos. DialekDie Berlynse dialek (Duits: Berlinisch of Berlinerisch) word in die algemeen as 'n variant van die Middelduitse Berlyn-Brandenburgse dialekte beskou wat in Berlyn en sy omgewing gepraat word en wendings en segswyses behels wat net in Berlyn voorkom. In taalkundige opsig word na die Berlynse dialek as 'n sogenaamde metrolek verwys - 'n stedelike mengdialek wat nie van plaaslike oorsprong is nie, maar uit 'n aantal verskillende dialekte ontstaan het. Die huidige Brandenburgse dialek is 'n variant van die Berlynse metrolek. Danksy die immigrasie van 'n groot verskeidenheid bevolkingsgroepe het die Berlynse dialek 'n groot aantal woorde en wendings uit ander tale en dialekte soos Vlaams, Frans en Jiddisj oorgeneem. Die dialek was in die geskiedenis hoofsaaklik die omgangstaal van die gewone mense, terwyl opgeleides en welgesteldes steeds moeite gedoen het om suiwer Hoogduits te praat. Baie mense, wat hulle in die stad gevestig het, het in hul omgangstaal wél elemente van die plaaslike dialek oorgeneem, tog is sy bestendige gebruik meestal as "proletaries" of "onvanpas" beskou. In die DDR het hierdie sienswyse gedeeltelik verander sodat ook opgeleide inwoners die dialek begin besig het. Gevolglik word die dialek deesdae hoofsaaklik in die oostelike stadsdele, die tradisionele werkersbuurte van Wes-Berlyn en in die omgewing van Berlyn gepraat. Die plaaslike omgangstaal is danksy die vestiging van nuwe immigrante ook vandag nog aan voortgesette veranderings onderworpe. In 'n groot deel van die voorstede het die inwoners net soos in die omliggende Brandenburg nog tot in die 20ste eeu Nederduitse dialekte gebesig. Hulle is as gevolg van die verstedelikingsproses van die voorstadgordel en die taalkundige invloed van Berlyn as metropool grotendeels deur Middelduitse dialekte of 'n Berlyns-beïnvloede Standaardduitse streektaal verdring en word vandag nog nouliks gepraat. Ekonomiese basisSedert die einde van die 19de eeu is Berlyn die grootste nywerheidstad in Europa. Die verwoestings van die Tweede Wêreldoorlog en die gevolge van die verdeling lei tot die verskuiwing van baie nywerhede na Wes-Duitsland, en slegs danksy subsidies van die Wes-Duitse regering kan 'n aantal vervaardigers oortuig word om in Wes-Berlyn te produseer. Oos-Berlyn geniet 'n voorrang wat die verskaffing van gebruiksgoedere en huisvesting in die Duitse Demokratiese Republiek betref. Terwyl daar vandag nog groot inheemse farmaseutiese ondernemings soos Bayer-Schering en Berlin Chemie is, groei die tersiêre sektor nou baie sterk en verteenwoordig meer as 80 persent van die Berlynse ondernemings. Tegelykertyd verloor die stad, wat in die twintigste eeu nog die nywerheidsentrum van Europa is, steeds meer van sy industriële basis. Terwyl daar in Duitsland sowat 70 nywerheidswerkers per 1 000 inwoners is, het hierdie getal in Berlyn tot sowat 30 gedaal. 'n Groot deel van Wes-Berlyn se nywerhede is ná die Tweede Wêreldoorlog, toe die stad as 'n kapitalistiese eiland in die hart van die DDR bestaan, deur subsidies aangemoedig om in die stad te bly. Die bruto geografiese produk het in 2006 80,3 miljard € (776,7 miljard ZAR) beloop. Berlyn toon die laagste ekonomiese groeikoers van alle Duitse Bundesländer, en die werkloosheidsyfer is in Februarie 2007 16,6 persent. As gevolg van die herenigingsproses is daar 'n massiewe skuldlas opgehoop, wat die stad heel moontlik nooit meer self kan afbetaal nie. RegeringDie parlement van Berlyn (Abgeordnetenhaus) word elke vier jaar deur die bevolking gekies. In 2002 het 'n koalisie van SPD (Sosiaal-Demokratiese Party van Duitsland) en Die Linkspartei/PDS (Party van die Demokratiese Sosialisme) die regering (Senat) gevorm. Die burgemeester (Regierender Bürgermeister) is Klaus Wowereit (SPD). Onderwys en universiteiteBerlin beskik met die sogenaamde Europaschule oor 'n unieke tweetalige skoolprogram, wat die kurrikulum sowel op laer- asook op hoërskoolvlak in Duits en 'n vreemde taal aanbied. 29 skole in die meeste van Berlyn se nege distrikte bied onderwys in altesame 29 vreemde tale aan. Die bekendste tweetalige skole is die John-F.-Kennedy-Schule, 'n tweetalige Duits-Amerikaanse hoërskool in Zehlendorf, en die Franse Hoërskool (Französisches Gymnasium), wat in 1689 vir Hugenote-kinders opgerig is en tweetalige Duits-Franse onderwys aanbied. Skoliere kan sowel die Duitse asook die Amerikaanse en Franse matriekeksamen aflê. Vier universiteite en 'n aantal Fachhochschulen (technikons) — waaronder die Freie Universität Berlin, Technische Universität, Humboldt-Universität, Universität der Künste, Fachhochschule für Wirtschaft, Technische Fachhochschule en Fachhochschule für Technik und Wirtschaft — het altesaam 150 000 studente (2005). Openbare vervoer en lughawensBerlyn beskik oor 5 334 kilometer se openbare strate en 1,44 miljoen geregistreerde voertuie. Moltrein, S-Bahn (stadstrein), trem, busse, nagbusse en snelbusse (X- en metrobusse) dek die hele stadsgebied met 2 286 kilometer se linies. Daar is ook fietspaaie dwarsoor die stad. Die internasionale lughawens is Berlin-Tegel Otto Lilienthal in die noordweste en Berlin-Schönefeld in die suidooste, met jaarliks 17 miljoen passasiers (2005). Die belangrikste internasionale lughawe in Duitsland is egter Frankfurt am Main. 'n Nuwe gemeenskaplike lughawe vir die deelstate Berlyn en Brandenburg, Berlyn-Brandenburg Internasionale Lughawe, word tans in Schönefeld net suid van Berlyn gebou. 'n Derde internasionale lughawe, Berlin Tempelhof, was in die middestad geleë, maar is om ekonomiese en veiligheidsredes op 30 Oktober 2008 gesluit. Die lughawe is in sy laaste jare nog oorwegend deur kleiner stralers aangedoen en was veral gemik op sakereisigers. Met 'n oppervlak van 450 hektaar en 'n hoofgebou wat oor 'n lengte van 1,2 kilometer strek en 300 000 vierkante meter beslaan was Tempelhof vroeër die grootste lughawe ter wêreld en het ook met die grootste gebou gepronk. Toe die lughawe in 1936 in bedryf gestel is, is dit jaarliks deur sowat 200 000 passasiers gebruik, terwyl dit uiteindelik op 'n jaarlikse aantal van sowat ses miljoen reisigers gemik was. Die lughawe is grotendeels in sy oorspronklike vorm bewaar en is vanweë sy baanbrekende konsep deur die Britse argitek Norman Foster "die moeder van alle moderne lughawens" genoem.[2] Weens die verwagte snelle groei van Berlyn ná die Duitse hereniging in 1990 is daar aanvanklik beplan om die terrein vir die oprigting van 40 000 nuwe woonstelle, wat 120 000 bewoners sou huisves, te gebruik. Berlyn se bevolkingsgroei was egter aansienlik laer, en die oorspronklike planne is intussen duidelik afgeskaal. Nuwe woonstelle gaan waarskynlik net aan die rand van die vliegveld opgrig word. Die nuwe Berliner Hauptbahnhof (Berlynse hoofstasie) is op 26 Mei 2006 feestelik ingewy. Die stasie, wat volgens die Duitse Spoorweë Deutsche Bundesbahn die modernste ter wêreld is, is deur die Letties-gebore Duitse argitek Meinhard von Gerkan ontwerp en teen 'n koste van sowat 700 miljoen Euro opgerig. Die stasie verbind die tradisionele treinstasie-argitektuur met moderne konsepte en sal daagliks sowat 1 100 treine en 300 000 passasiers hanteer. Internasionale uitstallings en filmfeesteBelangrike uitstallings waaraan ook Suid-Afrika deelneem is die Internationale Grüne Woche (vir landbou, tuinbou en kos; dit vind jaarliks in Januarie plaas) en die Internationale Tourismusbörse (reis- en toerisme-ekspo, jaarliks in Maart). Naas die Consumer Electronics Show (CES) in Las Vegas (Verenigde State) is die Internationale Funkausstellung die grootste uitstalling van elektroniese verbruikersware (soos televisie en hoëtroustelle) wat vanaf 2005 jaarliks plaasvind en – anders as die CES – oop staan vir privaatbesoekers. Februarie is die maand van die jaarlikse Berlinale, die internasionale filmfees van Berlyn.
Die nuwe Holocaust-monument
Love Parade, Karneval der Kulturen en Christopher Street Day-paradeDie Love Parade, wat in die jare negentig as 'n klein straatfees begin, het in sy hoogty meer as een miljoen jongmense gelok. Die reuse partytjie van dans en tegnomusiek het in Julie 2006 weer plaasgevind. In 2004 en 2005 is dit weens 'n gebrek aan fondse en borge gekanselleer, terwyl Essen in Augustus 2007 Berlyn as die gasheerstad vervang het.[3] Die ander bekende feeste is die Karneval der Kulturen, 'n kleurryke fees met meer as 4 000 groepe en dansers van dwarsoor die wêreld, wat gedurende Pinkster plaasvind, en die Christopher Street Day-parade van die gay en lesbiese gemeenskap, wat in Junie gereeld meer as 'n halfmiljoen toeskouers lok. ToerismeIn 2004 het Berlyn meer as 5,9 miljoen besoekers gelok. Vir die 79 600 hotelbeddens is sowat 13,26 miljoen oornagtings geregistreer, en die stad is nou besig om een van die belangrikste reisbestemmings in Europa te word. Die toerismebedryf bied tans 170 000 werkgeleenthede. Welgestelde besoekers uit die Oekraïne, die Russiese Federasie en Oos-Asië is die vernaamste kliënte in Berlyn se luukse winkels. Die gemiddelde kamerprys in 'n vier- en vyfster-hotel is in 2004 sowat 130 Euro wat baie gunstig vergelyk met Parys (212 Euro) en Londen (300 Euro). Besienswaardighede
KookkunsDie gewildste geregte is moontlik die beroemde Berlynse kerriewors en die Turkse döner ('n met vleis en groente gevulde brood), wat albei by straatstalletjies verkoop word. Nietemin is daar ook sowat 6 000 restourante, waarvan die helfte tradisionele Duitse kookkuns bied. Byna alle lande het 'n restourant met hulle spesialiteite in die stad. Kuns en kultuur
Museums
VerwysingsEksterne skakels
Hoofstede in Europa
Amsterdam | Ankara | Athene | Andorra la Vella | Belgrado | Berlyn | Bern | Bratislava | Brussel | Boedapest | Boekarest | Chişinău | Dublin | Helsinki | Kiëf | Kopenhagen | Lissabon | Ljoebljana | Londen | Luxemburg | Madrid | Minsk | Monaco | Moskou | Nicosia | Oslo | Parys | Podgorica | Praag | Pristina | Reykjavik | Riga | Rome | San Marino | Sarajevo | Skopje | Sofia | Stockholm | Tallinn | Tirana | Tórshavn | Vaduz | Valletta | Vatikaanstad | Vilnius | Warskou | Wene | Zagreb |
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
This article is from Wikipedia. All text is available under the terms of the GNU Free Documentation License.