|
Article on other languages: |
Die aardwolf (Proteles cristatus) is 'n vleiseter wat tans as 'n hiëna geklassifiseer word. Vroër was dit as die enigste lid van die Protelidae-familie gegroepeer, of ander kere as 'n hondagtige, in die familie Canidae.
IdentifikasieMannetjie en wyfies is dieselfde grootte en het 'n gemiddelde lengte 91cm, met 'n gemiddelde stertlengte van 23cm. Die algemene aardwolf het gemiddelde skouerhoogte van 50cm en kan tussen 7,5 en 10kg weeg. Die aardwolf lyk soos 'n jakkalsgrootte, kleiner-geboude hiëna. Die kop is hondagtig, met 'n breë, pelslose snoet. Die ore staan orent en is swartkleurig aan die agterkant. Die aardwolf se pels het 'n liggeel agtergrond, met vier tot vyf vertikale swart strepe op die lyf en onreëlmatige strepe op die pote. Die pelshare is lank en vorm 'n maanhaar op die nek en die rug. Die stert is geborsel (die Latynse naam vir die spesie beteken inderdaad 'veerbos'), met 'n swart punt. Die voorpoot het vyf en die agterpoot vier tone. Behalwe vir die slagtande, is die res van die aardwolf se gebit onderontwikkel. VerspreidingHulle kom oral in Suider-Afrika voor, behalwe in die ware woestyn en woude. In die res van Afrika, word dit aangetref in 'n klein sentrale gebied en ook die oostelike horinggedeelte van Afrika (noordoostelike Soedan tot by die suide van Tanzanië). HabitatHulle benodig die teenwoordigheid van termiete, en verkies grasland of bossieveld, waar miershope voorkom, met 'n jaarlikse reënval tussen 100 en 600 mm. GedragIn die somer is hulle naglewend, aangesien die Trinervitermes-termiete ook veral snags bedrywig is, maar in die winter raak hulle besig van laatmiddag af, aangesien die Hodotermes-termietgroep dan aktief raak. Hulle spoor termiete op met behulp van reuk en klank, en word van die gebreekte miershoop of grondoppervlakte af opgelek. Hulle gaan skuil in gate wat oorspronklik deur springhase of erdvarke gemaak is. Alhoewel 'n aardwolfpaartjie dieselfde gebied (van tussen een en vier vierkante kilometer) betrek, slaap en eet hulle apart. Betreders van hulle gebied word aangeval en weggejaag. Hulle merk hul gebied deur die afskeiding van talg vanuit anuskliere, wat 10 – 20 keer geskied per kilometer. Die dag se aktiwiteite begin deurdat die aardwolf mis en urineer op 'n mishoop wat spesifiek vir daardie doel opgebou word. Tot 10% van die dier se liggaamsmassa kan op 'n slag so uitgeskei word. Om hulself te beskerm, maak hulle staat daarop dat hulle so baie soos hiënas lyk, en hulle kan deur hulle hare op te pof, tot twee keer groter voorkom as hulle normale grootte. Aardwolwe is lomp en stadig, dus word hulle dikwels deur roofdiere gevang. Hulle kleintjies word veral gevang deur rooijakkalse. GeluideKommunikasie vind veral deur hulle merke plaas. As hulle naby aan mekaar is, of onder stres verkeer, kan hulle 'n diep brul, 'n harde blafgeluid, of 'n kloekgeluid uiter. KosHulle eet hoofsaalik termiete en miere, asook ook ander insekte, voëleiers en grondvoëltjies. Veral die Trinervitermes-genus is 'n gunsteling termiet. Hulle kan tot 300, 000 termiete 'n nag verorber, maar laat skynbaar altyd 'n gedeelte van die termietkolonie oor, sodat hulle later weer van daardie miershoop gebruik kan maak. Ander klein insekte word ook soms geëet. In die winter, wanneer termiete minder geredelik beskikbaar is, kan die aardwolf tot 25% van sy liggaammassa verloor. Weens hulle swak gebit, is hulle nie 'n bedreiging vir ander soogdiere nie. VoortplantingAardwolfpare bly gewoonlik lewenslank bymekaar, maar hulle sal met ander diere paar as die geleentheid hom voordoen. Mannetjies help om die welpies groot te maak deurdat hulle die kleingoed oppas wanneer die wyfie besig is om te vreet. Hulle paar in die winter, maar in Julie in die Noordkaap. Die dragtigheidstydperk is 90 dae. Tussen twee tot vyf welpies per werpsel word gebore, en hulle bly verskuil in hul gate teen ouderdom drie weke. Hulle bly naby die gate tot op ouderdom drie maande. Dan leer hulle vreet saam met hulle ouers vir nog 'n maand, waarna hulle onafhanklik begin vreet. Hulle deel hulle gebied met hulle ouers tot op eenjarige ouderdom. Spoor en veldtekensAardwolfmishope is kaal kolle veld, twee tot drie meter in deursnee, met die fekale reste begrawe in die grond. Elke aparte stuk mis is baie groot (meer as 5cm in deursnee) en bestaan hoofsaaklik uit termietkoppe en grond. Die mishoop het ‘n reuk wat herinner aan denneboomnaald- of bloekomboomgeur, weens die chemikalieë wat deur die termiete uitgeskei word as 'n verdedigingsmeganisme. Sien ook
Bronnelys
|
This article is from Wikipedia. All text is available under the terms of the GNU Free Documentation License.